Kromruggens is – soos enige ander plek in die Unie – uiteindelik maar net sy mense. Die goeies, die slegtes, die vreemdes en dié wat nog self probeer uitwerk watter soort hulle is.
Blaai gerus deur. Jy ken waarskynlik reeds iemand soos hulle.
Trap net mooi! Nes boeke, hoort hulle ook nie op eerste aansig beoordeel te word nie...
Op 6120 kHz kortgolf vang jy die distrik se nuus, musiek en af en toe iets wat waarskynlik eerder nié uitgesaai moes gewees het nie.
Luister gerus. Ontvangs wissel volgens weer, afstand en die persoon, gewoonlik Frikkie, wat daardie dag aan die knoppies sit.
Sanniesherberg
’n Besonder keurige toonsetting waarin die luisteraar met vaste hand, maar sonder enige onnodige gewoel, deur die bekende strate van Sanniesherberg gelei word.
Hoogs aanbeveel vir die fynproewer, die ernstige luisteraar en enige persoon met ’n behoorlik ingestelde kortgolfontvanger.
Die Tweeput Blues
’n Werk van besondere musikale onderskeiding, aangebied met die soort smaak wat deesdae ongelukkig al hoe meer deur geraas vervang word.
’n Betaamlike opname vir die luisteraar wat nog glo dat musiek nie noodwendig hard hoef te wees om hard te praat nie.
Van Tweeput tot Vêrgenoeg
’n Snit van besonder keurige gehalte, waarin melodie en stemming met bewonderenswaardige beheersing saamgevoeg word.
’n Beskaafde keuse vir die ernstige luisteraar, die kultuurbewuste huisgesin en enige persoon wat reken dat ’n draadloos ook vir iets anders as net nuusberigte gebruik hoort te word.
My Hart Verlang na die Melktrein
My Hart Verlang na die Melktrein bring ’n aandoenlike verhaal van liefde, verlange, spoorweë en landbou saam in een keurige komposisie. Met melkkanne, ’n skaapram en ’n dame op ’n stoep word die luisteraar herinner dat groot hartseer dikwels op die mees onwaarskynlike plekke wag.
Radio Kromruggens beveel aan dat hierdie opname sittend geniet word, verkieslik naby ’n venster en ver genoeg van die perron af om geen oorhaastige besluite te neem nie.
Drie Sjielings – Die Ballade van Saartjie Verwey
Drie Sjielings ondersoek die bekende distrikverskynsel waarin ’n vrou se naam verder reis as syself. Met rooi lippe en genoeg skinder om drie dorpe warm te hou, word Saartjie Verwey deur haar gemeenskap beoordeel, bespreek en verkeerd verstaan.
Radio Kromruggens beveel aan dat hierdie opname met ’n mate van selfondersoek geniet word, verkieslik sonder om na die buurvrou te kyk. Luisteraars wat hulself in enige van die karakters herken, word versoek om dit stilweg te verwerk en nie die stasie te kontak nie.
Nog vele meer! Besoek ons gerus op 6120 kHz SW in die Unie, of kom kuier saam op YouTube, wanneer in die Republiek!