Kromruggens
Mooi geleë tussen niks en nêrens
Mooi geleë tussen niks en nêrens
Daar is plekke wat jy op die Unie se kaart kan kry.
En dan is daar Kromruggens.
Hier, tussen die ploerte van Tweeput, die vergenoegdes van Vêrgenoeg en die armsaliges van Sanniesherberg, loop paaie nie altyd waar mens verwag nie.
Mense ook nie.
Hier weet ’n hond meer van sy bure as wat hy behoort, ’n dooie man veroorsaak ’n administratiewe knoop en die liefde duik op waar niemand daarvoor gesoek het nie.
Boonop wag die Langman iewers langs die rivier en selfs die dood sukkel soms om sy adresboek reg te lees.
In vyf-en-twintig verhale word die mense van Kromruggens liefgehad, uitgelag, begrawe, vergewe en soms selfs geglo.
Want tussen stof en sonde, verlies en vreugde, is daar altyd nog ’n afdraaipad wat êrens heen kronkel...
R250
Sanniesherberg - Baie stories, een waarheid.
Sanniesherberg.
’n Klein plekkie op die vlaktes van die Kromruggens-distrik, waar almal mekaar nog ken en soms selfs groet.
Waar liefde en verwyt dieselfde tafe deel, geheime nooit te diep begrawe word nie en die droogte die inwoners Meestal nederig hou.
Sommige kom hierheen om weg te kruip.
Ander verdwaal eenvoudig hierheen.
Maar almal maak uiteindelik ’n draai deur die dorp se stofstrate, onder die kerk se skadu en verby die plekke waar ou leuens nog soos sonbesies in die hitte kerm.
Sanniesherberg is ’n bundel verweefde verhale oor mense, hulle skuld, genade, verlies en die gevare van hoop en wensdenkery.
Hier dra elkeen ’n storie.
En sommige stories dra selfs die waarheid.
R250
Sanniesherberg was nog nooit ’n goeie plek vir geheime nie.
Hermientjie het dit geweet. Sy het net gedink liefde sou dalk die uitsondering wees.
Die dorp het natuurlik ander planne gehad.
Dié een is ongelukkig nog in die oond.
Gee hom maar 'n tydjie.
Die wag maak die koek mos lekkerder.